Priesters by 'n Katolieke gemeente in die noorde van Pole het boeke verbrand, insluitend die Harry Potter-reeks, en ander items wat volgens hul eienaars bose magte gehad het. Beelde van die brand by Gdansk se Mother of Church-gemeente is Sondag op Facebook geplaas deur 'n Katolieke stigting wat onkonvensionele maniere van godsdienswerk gebruik. Op die foto's verteer vlamme 'n Afrika-houtmasker, beeldjies van olifante, en boeke oor persoonlikheid en magie, sowel as dié deur JK Rowling, alles ingebring deur gemeentelede. ’n Priester en altaarseuns het die boekverbranding dopgehou. Die stigting het gesê die verbranding van boeke was bedoel om gemeentelede te waarsku vir slegte invloede wat volgens hulle afkomstig is van magie en die okkulte. Kommentaar onder die plasing het die optrede veroordeel en onthou dat dit ook voor die Tweede Wêreldoorlog in Nazi-Duitsland gebeur het.