Italiaanse owerhede het paaie gesluit en berghutte ontruim nadat kenners gewaarsku het dat 'n deel van 'n gletser op Mont Blanc kan ineenstort. Sowat 250 000 kubieke meter ys loop gevaar om weg te breek van die Planpincieux-gletser op die Grandes Jorasses-piek. Die burgemeester van die dorp Courmayeur het gesê aardverwarming is besig om die berg te verander. Die Mont Blanc-massief, met 11 pieke bo 4 000 m, is Wes-Europa se hoogste bergreeks. Kenners sê dit is onmoontlik om te voorspel wanneer die gletser kan ineenstort, want dit gaan deur 'n tydperk van groot verandering as gevolg van klimaatsfaktore. Vroeër hierdie maand het tientalle mense aan 'n 'begrafnisoptog' deelgeneem om die verdwyning van die Pizol-gletser in die noordooste van Switserland te merk. Dit het tot 'n klein fraksie van sy oorspronklike grootte gekrimp en 80% van sy volume verloor sedert 2006. Sien ook 'VSA: VN algemene vergadering' in hierdie week se wêreldafdeling.