Masedonië: Polisieklopjagte ná Channel 4 News-ondersoek

Europa - - 17 Jul 2015 - Print - Email

Die polisie het huise in die Masedoniese dorpie Vaksintse toegeslaan as deel van 'n mensesmokkelondersoek - 'n week nadat 'n verslaggewer van Channel 4 News 'n ontvoerbende na die gebied opgespoor het. Vier mense is in hegtenis geneem en 128 migrante, insluitend vroue en kinders, is deur die polisie in die klopjagte, op tien plekke, aangehou. Die migrante is nie in hegtenis geneem nie, maar aangehou as getuies van die ondersoek na die smokkel van onwettige immigrante. 'n Week tevore het die joernalis Ramita Navai die dorpie besoek om berigte te ondersoek dat 'n ontvoerbende migrante by een van die huise daar aangehou het. Met behulp van die GPS-koördinate van twee mans wat sê dat hulle in die dorp aangehou is, het Navai die huis gevind waar migrante geslaan en aangehou is vir losprys – gedwing om enigiets van €500 tot €1 000 te betaal vir vrylating. Toe die polisie die klopjagte uitgevoer het, was die huis leeg. Migrante van Sirië, Irak en ander Midde-Oosterse lande is egter op vyf plekke gevind.