Slowakye: Anti-immigrasie-houding

Europa - - 01 Jul 2015 - Print - Email

Honderde betogers het die strate van Bratislava ingevaar om hul woede uit te spreek. Polisiemotors is gevandaliseer. Mense het baniere vasgehou wat lees, Slowakye is nie Afrika nie, en een Arabiese gesin, insluitend 'n ma en baba in 'n stootwaentjie, is met klippe bestook. Hierdie betogings kom namate die bespreking oor die toestroming van immigrante na Europa uit dele van Noord-Afrika wat deur oorlog of armoede geteister is, op 'n hoogtepunt kom. Die Europese Kommissie het 'n oplossing voorgestel wat sou sien dat ten minste 40 000 immigrante regdeur die EU hervestig word met sekere kwotas vir elke lidstaat. Slowakye sou 'n kwota van 700 immigrante ontvang. Daar is spanning en onenigheid in die lidlande oor hierdie kwessie. Baie lande in die Weste soos Duitsland, Frankryk en die VK voel die impak van immigrasie. Die EU het voorgestel dat alle lidlande bymekaarkom om hierdie probleem op te los en die gewig van die lande wat die meeste geraak word af te haal, maar houdings is baie meer verdedigend onder die nuwer state.