Die Koninklike Vloot-oorlogskip HMS Bulwark het Maandag in 'n Italiaanse hawe aangekom, met 1 200 migrante wat uit die Middellandse See gered is. Die skip het by Catania, in Sicilië, vasgemeer waar die migrante aan die Italiaanse owerhede oorhandig sal word. Bulwark was die afgelope maand op ’n soek-en-reddingsending in die gebied. Kaptein Nick Cooke-Priest het gesê die mensehandelaars pleeg dade "wat neerkom op moord". BBC se verdedigingskorrespondent Jonathan Beale, wat tydens die redding aan boord van Bulwark was, het gesê 'n klein houtvaartuig was gepak met sowat 400 mense. Daar was ook twee rubberbote, elk met sowat 100 mense. Die feit dat baie nie eens reddingsbaadjies gehad het nie, was nog 'n herinnering dat die bendes wat hulle verhandel het, min agting vir hul lewens gehad het. Vyf van die mans wat gered is, gaan deur die Italiaanse polisie ondervra word oor moontlike bande met die smokkelbendes.