Duitsland: Betogings teen groeiende 'Islamisering'

Europa - - 12 Des 2014 - Print - Email

Dit lyk of 'n nuwe soort anti-immigrasie in Duitsland posvat met betogings teen wat die 'groeiende Islamisering' van die land genoem word. In Dresden het lede van PEGIDA of 'Patriotiese Europeërs teen die Islamisering van die Weste' 'n saamtrek gehou teen ekstremisme en vermeende misbruik van Duitsland se asielstelsel. 'Politieke vlugtelinge is baie welkom, maar kyk na ons asielsoekers se huise hier. Daar woon net mans. Waar is hulle families? Hulle is misdadigers wat hul gesinne in die oorlog agtergelaat het,' het een PEGIDA-betoger gesê. Kritici van PEGIDA wat hul eie teenbetoging gehou het, het die groep daarvan beskuldig dat hulle steun van die verregse Neo-Nazi's trek. PEGIDA sê dit is nie teen Moslems in die algemeen nie, maar wil die land se Joods-Christelike kultuur bewaar. Duitsland is nou die tweede gewildste bestemming vir migrante ná die VSA en sukkel om 'n ongekende toestroming van asielsoekers die hoof te bied.