Indië: Christene gedreig vir die verspreiding van traktaatjies

Leo en Jenifa Johnson is geïntimideer en gedreig in 'n woongebied van Tamil Nadu-staat waar hulle Christelike traktate aan huise versprei het. Toe hulle die gebied verlaat is hulle voorgekeer deur 'n man verbonde aan die ver-regse nasionalistiese groep, Hindu Munani. Hy het twee ander mans gebel en hulle het die egpaar gedreig en hulle daarvan beskuldig dat hulle mense in die buurt verplig het om te bekeer. Leo het gesê: 'Ons het nie vir mense van Jesus vertel nie. Al wat ons gedoen het, was om traktaatjies aan huise te versprei. Niemand is gedwing om die lektuur te neem nie.' Ten spyte van hierdie verduideliking het die aanvallers hulle gedreig en geëis dat hulle heilige as uit 'n plaaslike tempel op hul voorkoppe aansmeer. Leo het gesê: 'Jenifa was doodbang en het begin huil. Dit moes nie met ons gebeur het nie. Indië is veronderstel om 'n vry land te wees waar ons ons geloof kan beoefen.' Hulle is meegedeel dat as hulle na die gebied terugkeer, hulle gewelddadig aangeval sal word.