Daar word beraam dat tussen 50 000 en 70 000 Christene in verskriklike arbeidskampe in Noord-Korea gevange gehou word. Hea Woo is in een so kamp gehou. Toe sy aankom, het sy 'n bordjie daar gesien wat sê: 'Moenie probeer ontsnap nie, jy sal doodgemaak word'. Sy het gesê hulle het haar genadeloos geskop en geslaan. 'Dood was deel van ons daaglikse lewe. Die lyke is gewoonlik verbrand en die wagte het die as gestrooi op die paadjie wat ons elke dag gestap het. Ek het altyd gedink, eendag sal die ander gevangenes oor my loop. God het my gehelp om te oorleef. Hy het my 'n begeerte gegee om onder die ander gevangenes te evangeliseer! Hy het vir my gewys wie ek moet nader. God het my gebruik om vyf mense tot geloof te lei. Ons het in die geheim ontmoet, dikwels in die toilet, want dit was so walglik dat die wagte nooit daarheen gegaan het nie. Ek het vir hulle Bybelverse en liedjies geleer. Ons het geruisloos gesing.'