Print this page

Nigerië: nog skoolmeisies ontvoer

Op 25 Februarie het Nigerië se minister van inligting 'n vergadering gehad met die familielede van 110 meisies wat 'n week vroeër ontvoer is. Die gefrustreerde gesinne het die regering gekritiseer omdat hulle so lank geneem het om die ontvoering te erken. Hulle het 'n lys name van die vermiste meisies aan die minister gegee en gekla dat amptenare traag reageer. Die meisies se lot is nie bekend nie, maar getuies het gesê die Islamitiese ekstremiste het spesifiek gevra waar die meisieskool geleë is. Sommige ooggetuies het berig dat hulle gesien het hoe jong vroue met 'n vuurwapen weggeneem is. Olatokunbo Adesanya, woordvoerder van die lugmag, het gesê pogings om die meisies op te spoor word in noue skakeling met ander veiligheidsmagte gedoen. Daar word gevrees dat die meisies bruide vir Boko Haram-ekstremiste sal word. Nigerië se president het gesê geen moeite sal ontsien word om hulle op te spoor nie.