Print this page

Nigerië: 13 sterf in Christen-Moslem-botsing

Minstens 13 mense is op 26 Februarie dood in botsings tussen Christene en Moslems in die Kasuwan Magani-gemeenskap in die Kaduna-staat, sentraal-Nigerië. Baie huise en winkels is afgebrand. Twintig verdagtes is in hegtenis geneem en ekstra polisie is op straat gesit om die geweld te probeer stuit. 'Die plek is tans rustig. Ek was gister in die dorp om die gemeenskap en tradisionele leiers te smeek om die strydende jeugdiges te beveel om hul swaarde te skede,' het die staatspolisiekommissaris gesê. 'Ons wil nie tot gevolgtrekkings kom oor wat tot die chaos gelei het nie. Bespiegeling was dat sommige Christen-seuns ontevrede was dat hul meisies met Moslem-seuns bevriend raak.' Plaaslike verslae dui daarop dat die dodetal hoër is as wat die polisie berig het.