Print this page

Mexiko: joernalis se moord kan lei tot 'n 'stiltesone'

Verlede week is veteraan koerantjoernalis Miroslava Breach agt keer geskiet voor haar jongste seun, in die Sierra Tarahumara-streek. Sy is die tweede joernalis wat in 'n week vermoor is, en die derde vandeesmaand. Die streek is ryk aan kosbare minerale en ougroeiende woude. Dit het ook ruim en moeilik bereikbare vrugbare grond, ideaal vir die verbouing van onwettige gewasse. Kartel-gekoppelde paramilitêres het jare lank skrikwekkende verplasingsveldtogte teen die inheemse Tarahumara-inwoners gevoer. In Januarie het gewapende mans die gebied se mees hoëprofiel verdediger van inheemse grondregte, Goldman-pryswenner Isidro Baldenegro, vermoor. Een van Breach se laaste verslae was oor die ontdekking van massagrafte wat waarskynlik gebruik is om die liggame van ontvoeringslagoffers en verdwynde persone weg te steek. Sonder haar verslaggewing, kan die streek nog 'n joernalistieke 'stiltesone' in Mexiko se medialandskap word.