Print this page

Egipte: vier bomverdagtes in hegtenis geneem

Vier mans is in hegtenis geneem in verband met die selfmoordaanval by die St Peter and St Paul-kerk in Kaïro verlede maand, wat 28 mense dood en meer as 40 beseer het. Elf mense is steeds in die hospitaal. Egipte se ministerie van binnelandse sake sê een van die vier mans wat in hegtenis geneem is, het bande met die Moslem-broederskap, hoewel die groep enige betrokkenheid ontken het. Ure ná die aanval het die terreurgroep IS gesê een van sy soldate, genaamd Abu Abdallah-al-Masri, was verantwoordelik vir die uitvoering van die aanval, die ergste op Egipte se Koptiese Christengemeenskap sedert 2011. Ten spyte van hierdie bewering deur IS, lyk Egipte gretig om die skuld op die verbode Broederskap te pak. Skade aan die kerk is net voor 7 Januarie, die dag waarop Koptiese Christene Kersfees vier, herstel. Die opknappings is onderneem deur Egipte se weermag onder bevel van president Abdel-Fattah El-Sisi, wat belowe het om alle kerke wat sedert 2013 vernietig of beskadig is, te herbou.