’n Pastoor is volgens World Watch Monitor (WWM) deur gewapende Fulani-veewagters in Nigerië se sentrale deelstaat Nasarawa doodgekap. Ds Joseph Kurah, saam met die Evangelical Church Winning All (ECWA) in Obi-dorp, is glo op 30 Junie vermoor nadat hy omstreeks 19:00 na sy plaas gegaan het om bome af te kap vir dakhout. Daar was vroeër 'n dispuut met 'n plaaslike Moslem oor eienaarskap van die grond, volgens lede van die kerk. Baie plaaslike Christene vermoed dat die Moslem die Fulani-veewagters gehuur het om die moord uit te voer. 'n Man wat homself as Kurah se nefie geïdentifiseer het, het grafiese foto's op Twitter geplaas en gesê: 'Hulle het hom op sy plaas aangeval, sy arms en bene afgesny; toe kap hulle sy kop met 'n kapmes. Al wat ek wil hê, is dat geregtigheid geskied. Nasarawa-staat en die federale regering moet die moordenaars van my oom vind.' Kurah het 'n vrou en sewe kinders agtergelaat.