Print this page

Sirië: Rusland skiet kruismissiele af op terroriste in Sirië

Oorlogskepe in die Kaspiese See het kruismissiele gelanseer in die eerste gebruik van die Russiese vloot sedert die begin van 'n militêre opbou ter ondersteuning van al-Assad. Sergei Shoigu, Rusland se minister van verdediging, het Donderdag gesê die vloot het 11 teikens in Sirië getref met missiele wat vanaf skepe in die Kaspiese See afgevuur is. Vier skepe in Rusland se Kaspiese vloot het altesaam 26 kruismissiele op die teikens afgevuur. Hulle het 1 500 km oor Iran en Irak gevlieg en Raqqa en Aleppo provinsies in Sirië se noorde en Idlib provinsie in die noordweste getref. IS het vestings in Raqqa en Aleppo, terwyl al-Nusra Front 'n sterk teenwoordigheid in Idlib het. Ashton Carter, die hoof van die Pentagon, het gesê die Russiese strategie is 'n 'fundamentele fout' en koalisiemagte wat in die streek werk, sal nie met Rusland saamwerk nie. Poetin het die behoefte aan samewerking met die VSA-geleide koalisie wat IS beveg, beklemtoon en gesê dat sonder samewerking van die VSA, Turkye en Saoedi-Arabië die ingryping waarskynlik nie sal werk nie.