Soedan: Pastore op verhoor

Wêreldwyd - - 21 Mei 2015 - Print - Email

Twee Suid-Soedanese pastore, Michael Yat en Peter Yen Reith, staan in Khartoem tereg. Hulle is onderskeidelik in Desember 2014 en Januarie 2015 deur Soedan se Nasionale Intelligensie- en Veiligheidsdiens aangehou en is aangekla van 'n reeks kriminele oortredings, insluitend misdade teen die staat wat strafbaar is met die dood, lewenslange vonnis of mindere aanhouding en konfiskering van eiendom. ’n Hofverhoor het op 19 Mei begin, maar die aanklaer het nie klaargemaak nie en sal voortgaan om sy getuienis op 31 Mei voor te lê. Hierna sal die verdedigingsprokureur 'n geleentheid kry om sy saak te stel. Hy meen daar is geen werklike bewyse teen die twee pastore vir enige van die aanklagte nie. Hy meen ook die enigste rede vir die hofsaak is die twee dominees se beoefening van hul Christelike geloof. Christene in Soedan vra ons om te bid dat God die pastore en hul gesinne sal beskerm.