Print this page

Sirië: VN - Eenparige stem om hulp in rebellegebiede te lewer

Ten spyte van besware deur Sirië se regering, het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad Maandag 15 teen 0 gestem om oorgrenskonvooie van noodhulp vir miljoene behoeftige Siriese burgerlikes in gebiede wat deur rebelle beheer word, te magtig, sonder vooraf goedkeuring deur die Siriese owerhede. Dit versterk bepalings wat vyf maande gelede aangeneem is en dui op 'n seldsame eenstemmigheid onder die lede van die Veiligheidsraad oor hoe om die 4-jarige burgeroorlog in Sirië te hanteer. 10,8 miljoen mense het hulp nodig as gevolg van die oorlog, en ongeveer die helfte van hulle woon in gebiede wat deur rebelle beheer word. Tot dusver het die regering van president Bashar al-Assad daarop aangedring dat alle internasionale hulp deur Damaskus gekanaliseer word en baie min, indien enige, het by burgerlikes uitgekom in gebiede wat nie deur die regering beheer is nie. Sy politieke teenstanders glo dat die onregverdigheid en onbillikheid van hulpverspreiding deel was van 'n poging om die bystand, insluitend medisyne, as 'n oorlogswapen te gebruik om gebiede wat deur rebelle beheer word, siek te maak en uit te honger.