Print this page

Mexiko: Gevare vir onbegeleide migrerende kinders

Pous Franciscus het 'n beroep gedoen op dringende optrede om die tienduisende onbegeleide kinders wat van Sentraal-Amerika en Mexiko na die Verenigde State migreer te beskerm en te versorg. In 'n brief wat deur die Vatikaan se gesant na Mexiko voorgelees is en deur ministers van buitelandse sake van Guatemala, Honduras en El Salvador gehoor is, het die pous gesê 'n humanitêre noodgeval vereis dringende maatreëls vir minderjariges om beskerm en behoorlik ingeneem te word. Migrante trek die Verenigde State binne onder uiterste toestande in die nastrewing van 'n hoop wat in die meeste gevalle tevergeefs blyk te wees. Amerikaanse owerhede het sedert Oktober 57 000 onbegeleide minderjariges aangehou. Mexikaanse owerhede het in die eerste vyf maande van vanjaar 8 000 kindermigrante opgetel - van wie meer as die helfte alleen gereis het. Die pous het 'n beroep gedoen op beleid om die publiek in te lig oor die gevare van die reis na die noorde en om ontwikkeling van die migrante se lande van herkoms te bevorder. (Sien ook item 4 hieronder)