Alarm uitgespreek oor die verbod op Onse Vader

Druk neem toe op rolprentreklamehoofde om 'n verbod op 'n advertensie met die Onse Vader om te keer. Die rolprentkettings, Odeon, Vue en Cineworld, het vroeër vandeesweek die rolprent van een minuut verbied ingeval dit nie-Christene aanstoot gee. Daarin dra die aartsbiskop van Canterbury en lede van die publiek die Onse Vader op. Dit sou regdeur die week voor Kersfees vertoon word en het 'n universele sertifikaat deur die British Board of Film Classification ontvang en deur die Cinema Advertising Association goedgekeur. Die rolprentkettings het egter gesê dit kan 'aanstootlik' wees vir fliekgangers. Die Kerk van Engeland oorweeg regstappe en sê dit was die slagoffer van godsdiensdiskriminasie deur Digital Cinema Media, wat advertensies vir die bioskoopreuse hanteer. Nou beskryf politici, insluitend David Cameron, die uitspraak as belaglik. Stephen Fry, 'n kritikus van godsdiens, het gesê dit is 'bisar, onregverdig en misleidend', terwyl Boris Johnson dit as verregaande veroordeel het. Kyk na die advertensie by: http://www.justpray.uk/